Goeie Vrydag 2026
Die geopenbaarde liefde van ons Hemelse Vader
Alles het begin met die aankondiging van Johannes die doper Johannes 1:29 “… Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”!
Die Lam van God, ons geskenk, is gegee uit die liefde van ons Hemelse Vader. Dit was ‘n liefdes geskenk met ‘n geweldige prys. Die Lam moes geoffer word sodat vergifnis kon plaasvind. Hebreërs 9:22 En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
Paulus verduidelik verder in Efesiërs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God”. Dit is ‘n geskenk wat ons nie kan verdien nie, ons kan dit net ontvang in die liefde waarin dit gegee is.
Soos ons die geskenk, die Bloed van Jesus Christus, as die Lam van God ontvang in geloof en in erkenning van skuld, word ons toegevou met die liefde van ons Hemelse Vader. Dit is soos ‘n vlekkelose kombers (die Bloed van Christus) wat ons vuil kleed bedek en ons so deel maak van God se Huishouding. Paulus beskryf dit in Kolossense 1:21-22 “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel.”
Die kruisiging was die middel tot die doel, die geopenbaarde liefde van ons Hemelse Vader. Liefde is egter iets wat ons moet koester in ons daaglikse wandel. Liefde is soos die Dooie See as dit nie uitgegee word nie, kan dit stagneer en nie meer lewe gee nie. Ons het hierdie liefde ontvang en nou kan ons dit in die opgewondenheid van die liefde ook deel en lewe gee. Christus as ons eerste liefde kom met ‘n waarskuwing in Openbaring 2:4-5 “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie”.
Met Goeie Vrydag herleef ons opnuut ons eerste liefde wat ons ontvang het in Christus Jesus, en word ons herinner om die opgewondenheid daarvan daagliks te beleef, te geniet en te deel.
Onthou die 2 visies en die 5 broodjies, die dissipels het gedink dis nie genoeg nie, maar toe hulle dit in die hande van Jesus Christus gesit het, met die woorde “dis al wat ons het”, het Jesus dit geneem, Sy liefde bygevoeg en daar was oorvloed.
Laat Goeie Vrydag vir ons weer opnuut bemoedig om wat ons ontvang het te deel, al lyk dit oënskynlik nie genoeg nie. Moenie kyk na jouself en jou eie onvermoë nie, maar fokus op Jesus en Sy vermoë om die onmoontlike moontlik te maak!
