DIE KRAG VAN GESINNE WAT SAAMBID

Die gesin is die prototipe op aarde van wat God in Sy Liggaam wil sien. God se plan met die gesin is kosbaar maar die vyand sal alles doen om dit te vernietig. As ons na die samelewing kyk dan sien ons dat die grootste aanslag op die gesin is.

Ons moet onthou dat die aanslag wat ons beleef eintlik ‘n aanslag op God se plan is. Ons is net die sigbare, kwesbare deel van God se plan.

Paulus sê in 1 Tim 3:15; “Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Ef. 2: 19, “Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.”

Man en vrou is ‘n span, in die gees verenig deur die Gees van God en daarom ook bekragtig deur die Heilige Gees. Daar is dus besondere krag in ‘n man en vrou wat saambid, baie meer as hulle individuele krag omdat die Heilige Gees hulle gebede versterk.

Maar daarom is daar ook baie op die spel wanneer hulle nie saam bid nie. Die vyand weet dit en daarom sal hy allerlei manier probeer om hierdie krag te verswak of te verhoed. Hy vergiftig en verhard ons harte met sy leuens… niks sal ooit verander nie…. dis hopeloos… dit sal tog nooit werk nie…

Gebed daarinteen versag ons harte en gee ons hoop en geloof en ‘n visie.

Gebed is ‘n liefdesdaad en hoe meer ons bid hoe groter word ons liefde en hoe meer ons liefde en geloof groei hoe makliker bid ons. Dan begin ons die oplossing bid en nie die probleem nie.

Niks is onmoontlik vir God nie.

Waar begin ‘n mens ? Dikwels moet jy eers vir mekaar begin bid voordat jy as gesin kan saam bid.

Begin by jouself.

Ons vra dikwels, Here verander my man of my vrou of my kind, maar die beste plek om te begin is om te vra… verander my.

God wil hê ons harte moet rein wees sodat Hy ons gebede kan verhoor. Dawid het in Ps 66 gesê, “As daar sonde in my hart was,

sou die Here nie geluister het nie.Maar God hét geluister,

Hy hét my gebed verhoor!”

Vergiffenis… wees eerlik… sê dinge soos wat dit is….

Bely alles. Vra dat God jou vry maak van alles wat nie van Hom is nie. Ons moet besef dat onversoenlikheid, bitterheid, onvergewens gesindheid, liefdeloosheid, selfbejammering en so meer sonde is net soos ander sondes soos huweliksontrou, drankmisbruik ens.

Iemand het een keer gesê, my reaksie op dit wat jy teen my verkeerd doen is dikwels net so verkeerd as dit wat jy gedoen het.

Seën jou huweliksmaat. Vra God om jou instaat te stel om hom of haar met Sy oë te laat sien. Moenie vra dat die ander doen wat jy wil nie, maar dat julle almal doen wat God wil.

Verwagtinge veroorsaak teleurstellings. Ons wil soms mense na ons verwagtinge verander en dit werk nie. Vra die Here om die eienskappe wat Hy in die mens gesit het vir jou te wys en bid dit in werking.

Gebed bring eenheid en sonder eenheid is dit onmoontlik om effektief saam te bid.

Wanner ons vir ons kinders bid is ons geneig om baie skuld op ons self te laai. Daar is nie volmaakte ouers nie, maar daar is biddende ouers en hulle is die wat ‘n verskil maak.

God het ‘n plan met jou kinders en die duiwel staan lynreg teenoor daardie plan. Die ouer wat bid bepaal watter plan in werking gaan kom.

Aanslag op die jeug. Die moeilikste deel van bid vr jou kinders is die wag op die antwoorde en om dan te sien hoe hulle verkeerde keuses maak en die gevolge daarvan moet dra.

Aanvanklik sal dit stram en stokkerig wees om saam te bid en julle gaan voel dis kunsmatig, maar onthou dat oefening alles makliker maak. Moenie forseer nie. Gebed word gebore uit ‘n verhouding met God en as daar nog nie vrymoedigheid is nie, kan net God dit verander.