EFESIËRS God se model vir die kerk deur Corrie Huyser

Paulus se sendbriewe is briewe van lering en bemoediging aan die gemeentes. Hy het 2 jaar in Efese gewoon en het dus hulle omstandighede baie goed geken. Paulus wou die gelowiges in Efese bemoedig. Hulle het dit baie nodig gehad want hulle was baie min in ‘n bose samelewing.


Die tempel vir die godin Diana of Artemis, een van die sewe wonders van die wêreld, was in Efese. Hulle het letterlik in die skaduwee van die afgodstempel gewoon. Wat was Paulus se boodskap aan die gemeente in Efese? *Hulle het nodig gehad om Christus te ken..
*Te weet dat Christus alle bose magte oorwin het…
*Dat God ‘n ewige plan met hulle het…
*Dat Christus hulle uit die wêreld geneem het en hulle kinders gemaak het van God…
*Dat die evangelie hulle lewens kan transformeer…
*Dat hulle kan staande bly in die geveg….
*Dat hulle in Christus is al woon hulle in Efese.

Hoe is dit op ons, die gelowiges in Suid Afrika in die 21ste eeu van toepassing? Ons omstandighede is baie dieselfde. Ons leef nie letterlik in die skaduwee van ’n afgodstempel nie, maar ons word daagliks gekonfronteer met talle afgode. Ons moet ook weet wat dit beteken om in Christus te wees? Ons moet weet dat elke geestelike seëning is vir ons gegee in Christus deur genade omdat dit deel van God se plan en Sy wil is. Ons kan dit nooit verdien nie dis ’n geskenk.
Ef.1:7-8 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

Dit is die fondament van ons geloof. Deur genade gered in geloof. Alles wat ons deur Christus ontvang het, ontvang ons in die geloof. Nie oor iets wat ons gedoen het nie maar volgens Sy plan en wil (raadsbesluit). Suiwer genade van begin tot einde
Ef.1:11 Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit

Niks gebeur met ons of in die geskiedenis van die wêreld buite God se wil nie.
Rom.8:28-29 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief hét, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.


Alles werk ten goede volgens God se plan en doel. Ons lees dikwels net vers 28 en verstaan nie mooi nie, maar as ons vers 29 ook lees verstaan ons wat God se bedoeling is…dat ons al meer die karakter eienskappe van Christus sal openbaar en uitleef tot Sy eer. God laat dinge in ons lewens toe wat ons kan vorm om meer soos Christus te word.
Rom.5:17 Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.


Ons moet ophou om aan onsself te dink as arme sondaars. Ons is geredde sondaars, vrygekoop deur die kosbare bloed van Christus. 2Kor.5:17 Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Die ou dinge het verby gegaan en alles het nuut geword met ‘n doel. Die verwydering tussen God en die mens wat die eerste Adam se sonde veroorsaak het, het die tweede Adam (Christus) kom regstel. Ons kan weer in ‘n verhouding met God deur Christus wees. God wil deur Sy kerk, Sy liggaam verheerlik word en dit sal gebeur wanneer ons die familie trekke openbaar. Rom 8:29 om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.

Dis nie ons wat dit bewerkstellig nie, maar God doen dit in ons as ons Hom toelaat.
Hy sal ook voltooi wat Hy begin het in ons: Filippense 1:6 Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Wat is die goeie werk waarvan die Bybel hier praat?
Rom.8:29 om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
Wat het Christus alles vir ons gedoen?
1) Verlossing= bevryding van die mag van sonde. Deur Sy bloed wat aan die kruis gestort is, as die Offerlam van God, het Hy ons sonde op Hom geneem en daar deur het Hy ons terug gekoop uit die mag van Satan.
Rom.6:7-8 Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.

2) Hy het versoening met God die Vader bewerkstellig …

3)Hy het ons skuld op Hom geneem…….

4) Hy het ons herstel na God se oorspronklike plan met die mens. Die voorregte en gesag wat Adam in die tuin van Eden voor die sondeval gehad het is ook tot ons beskikking.


Alles wat ons nodig het om tot eer van God te lewe het ons in Christus ontvang- verlossing, vergiffenis, aanneming as kinders en geestelike verheldering deur wedergeboorte. Kom ons lees weer wat Paulus skryf in 2Kor.5:17 Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Wie was Paulus? Weet hy waarvan hy praat?
Hy was baie godsdienstig, een van die voorste fariseërs, so oortuig daarvan dat hy reg was dat hy uit sy pad gegaan het om Christene te vervolg omdat hy gedink het hulle doen verkeerd. Hy wou dit wat hy geglo het die enigste ware godsdiens was, beskerm teen hierdie ‘dwaling’. Toe het hy ‘n ontmoeting met Christus en hy word ‘n dissipel van die een wat hy vervolg het. Hy is heeltemal verander deur hierdie ontmoeting.
Jesus sê vir Nikodemus in Joh.3:3 dat dit nodig is om weergebore te word. D.w.s om ‘n ontmoeting met Christus te he wat ons verander van natuurlike mense na geesmense.

Wat doen dit aan ons? Hoe verander dit ons? Want dit behoort ons te verander.
In Paulus se lewe het dit gelei tot nederigheid…verwondering dat God dit vir hom gedoen het. Hy noem homself later die minste van die dissipels en die ergste sondaar.


Hoe ervaar ons nog die wonder van verlossing in Christus?
Miskien moet ons bid soos Dawid gebid het in Ps.51:12 Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is.
Stabiliteit en volharding…omdat ek geanker is in God. Dit laat my volhard soos Paulus in 2Kor.5:14 Die liefde van Christus dring ons,
‘n Heilige lewe omdat God se wil is dat ek soos Jesus moet word.
Ek moet my net oopstel vir die werking van die Heilige Gees, want ek kan dit nie self doen nie.
Ons dink dikwels heiligheid het te doen met ‘n klomp moets en moenies, maar kom ons let mooi na die woorde van 1 Pet.1:16 Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Ons heiligheid word gemeet aan God se heiligheid en geen stel reels kan dit bewerk nie, slegs ‘n ontmoeting met die Lewende God deur Christus kan ons daar kry. Soos met Paulus deur lofprysing omdat hy so ryklik en onverdiend geseën is.
Ek het die doodstraf verdien as gevolg van my ongeregtighede en sonde maar Jesus het namens my die straf gedra. Dit het van hom ‘n man van gebed gemaak.


Maak ‘n ontmoeting met die Lewende God van my ook ‘n man of vrou van gebed soos Paulus.?
As my begeerte na die Here is, en werklik begeer om Hom beter te leer ken kan ek nie anders om Sy aangesig te soek in gebed nie.
Wanneer ek ‘n ontmoeting met Hom in gebed het dan word Sy begeertes my begeertes en begin ek dit bid. Wanneer Paulus dus vir die gemeente in Efese skryf en vir hulle bid is dit omdat hy in ‘n persoonlike verhouding met God deur Christus is en dus uit ondervinding praat.


Wat bid Paulus vir die gelowiges in Efese?
Omdat die Bybel vir ons geskryf is en nie net vir die kerk in Efese nie, geld hierdie gebede ook vir ons as kerk van God vandag nog.
Ef.1:15-16 Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie.
Geloof en liefde is vir Paulus die kenmerke van Christenskap..
Ware Christenskap getuig altyd van liefde vir God en vir jou naaste…die eerste en 2de gebod. Matt.22:37-40‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat. Paulus begin met dank aan God… want sonder dankbaarheid kan ons nie waarlik bid nie.


Waarvoor bid Paulus nog?
Vers 16 en 17: Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Om God te ken is ons grootste voorreg. 2 Petrus 1:3 Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Ons weet baie van God, maar ken ons Hom? Om God deur Christus te ken is om Ewige lewe te ervaar. Soos Petrus in Joh. 6:68 Toe Jesus hulle vra of hulle Hom ook gaan verlaat het Simon Petrus Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.
Dink ons ooit daaraan dat dit moontlik is dat ek dalk sal moet kies tussen God en die lewe wat ek ken? Paulus bid dat God hulle geestesoë sal verhelder vers 18 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Dink ons aan die voorreg om God te ken? Sodat ons daarvolgens kan leef.
Hy wil ons die volheid van wat Hy met Sy lewe vir ons betaal het gee. Hierdie hoop is nie wensdenkery nie, dis die versekering van dit wat ons toekom…
Wat het God belowe? Wat is dus ons erfenis?
Ewige lewe!! Die ewige lewe begin hier op aarde wanneer ons Jesus aanneem as ons Verlosser…met Hom identifiseer in volkome oorgawe aan Sy plan met ons lewens.
Ons lewe hier op aarde word bepaal deur hoe ons dink oor ons toekoms. Dink ons aan die wonder van ‘n ewigheid saam met God in die hemel? Die rede hoekom Paulus bid dat ons geestes oe verhelder moet word is sodat ons God se ewige plan sal verstaan omdat dit sal bepaal hoe ons hier op aarde lewe. Om elke dag te lewe met die wete en verwagting dat Hy weer kom en om teenoor ander op te tree in die lig van Sy finale beoordeling van ons lewens. Paulus bid ook vir die Tessalonisense (2Tes.1:11) Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.

Ons as kerk van God het in n groot mate vergeet wat die praktiese implikasies van Christenskap is. Die kerk het weinig impak in die wêreld omdat ons denke so op hierdie wêreld gefokus is en ons so baie soos die wêreld is dat ons dit nie kan verander nie.
Ons roeping is immers om God se koninkryk en Sy wil op aarde te vestig…om ‘n verandering te maak…om te heers namens God. Die Evangelie boodskap is nie net vir ‘n beter lewe nie, maar vir ‘n volledig nuwe lewe.
Ons is wedergebore in Christus. Nuwe mense. Paulus sê die ou dinge het verby gegaan, kyk alles het nuut geword. Ons moet toelaat dat ons denke ook vernuwe word. Die kerk, die Liggaam van Christus moet verandering bring. Ons is al wat God het om mee te werk hier op aarde. Wanneer ons oë gevestig is op ‘n hemelse toekoms saam met Christus dan is die dinge van hierdie wêreld nie meer so belangrik nie. Dan kyk ons verby die dinge en kan ons soos Paulus in Filippense 3:7-9 sê: Wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Dan gaan hy vêrder en in vers 13 en 14 se hy: Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus

Kan ek dit sê? Wil ek dit hê?
Die kerk van die Here op aarde is veronderstel om die kragtigste orgaan denkbaar te wees, daarom is dit ook nodig dat ons geestesoë verhelder moet word dat ons ook kan verstaan wat ons in vers 19-21 lees: en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ons moet verstaan wat die implikasies vir ons is van Christus se opstanding en verheerliking, Sy oorwinning oor al die magte van die bose. Dit behoort vir ons ‘n realiteit te wees. Hy heers oor elke mag en gesag, elke krag en heerskappy wat daar ook al sprake van mag wees. Daar is niks wat Sy planne vir die kerk kan teenstaan nie. Mat 16:18 Ek(sal) my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ons lees in Ef 1 vers 22-23: Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Jesus het sy dissipels, dit sluit ons in, met daardie gesag geroep. Matt.28:18: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan ….En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Daar is niks buite Sy beheer, buite Sy teenwoordigheid, niks waarvan Hy nie die Here is nie en Hy woon in die kerk, Sy liggaam. In ons. Die kerk is die liggaam waarin die volheid van die Godheid woon, dit beteken Hy, Christus, maak sy kerk vol met Sy teenwoordigheid. Hy wil sy kerk gelykvormig aan Hom maak totdat dit volledig na Sy beeld is. Ons het nodig dat ons geestes oe verhelder moet word want ons lewe dikwels so vêr onderkant ons rykdom in Christus. Ef.2:6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, Ef 2:10 God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Ons kan dit alles vir onsself toe-eien.
Die vraag is.
Is ek in Christus Jesus?
Is ek weergebore?
Is ek ‘n nuwe mens?
Het ek soos Paulus ‘n ontmoeting met Christus gehad?
Is ek dus waarlik kerk van God op aarde?