Ons benadering tot geestelike oorlogvoering.
My benadering tot geestelike oorlogvoering is gevorm tydens sendingwerk in Mosambiek gedurende 2007-2011. Die Vader het my gestuur om ’n huis van gebed te begin om sodoende Sy Koninkryk daar te vestig. Ek was egter gekonfronteer met die duistenis van die sangomas. Dit was vir my oorweldigend en ek het Vader gevra hoe om dit te hanteer, aangesien mense ’n verskeidenheid van opinies gehad het. Die meeste daarop gerig om die donkerte te bind in die outoriteit van Jesus.
In antwoord het Vader my ’n skaal gewys wat aan die eenkant lig gehad het en aan die ander kant, die getilte kant oorlaai met duisternis. Soos meer lig bygevoeg is, het die skaal begin tilt na die lig se kant toe totdat die duisternis geen effek meer op die skaal uitgeoefen het nie. Dit was vir my baie duidelik dat ek nie moet fokus op die donkerte nie, maar fokus om die lig meer te maak deur die waarheid te verkondig en te proklameer. Oor ’n tydperk van meer as ’n jaar het die tent wat ons gebruik het as huis van gebed te klein geword en het die area begin verander.
Van die getuienis wat ons mettertyd ontvang het, was dat van die sangomas na die huis van gebed toe gekom het, aangesien hulle in ’n droom gesê is om te kom sodat hulle bevry kan word. Die huis van gebed was toe nie meer ’n tent was nie maar ’n tradisioneel geboude saal. Oor die jare het die area verander soos die lig meer geword het. Die pastoor wat daar aktief is, se kerk het van 20 gegroei in so mate dat hulle in 2022 ’n byeenkoms gehad het met meer as ’n duisend mense.
Hierdie ervaring het my geleer dat geestelike oorlogvoering, of om in die bres te tree vir ’n land of mens, nie te doen het met die duisternis nie, maar met die proklamasie van die lig. Daar was tye dat die sterkman gebind moes word in die outoriteit van Yeshua, maar die fokus was om die lig meer te maak. Yeshua het gesê dat ons die lig bo-op die tafel moet sit sodat die hele huis kan sien en dan sal ons nie struikel in die donkerte nie.
In Matheus 12:43-45 lees ons “En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hyself met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.” Hierdie verwysing van om op die duisternis te fokus sonder om die lig meer te maak het vir my geïnspireer om aan te hou met wat die Vader my geleer het.
Die vraag bly egter, hoe maak ons die lig meer? Die antwoord is in die eenvoud van God se Woord, jy proklameer die Woord van God in geloof en vertroue in erkenning van wat geskryf is. In Hebreërs 11:6 staan “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
As ons God se Woord proklameer moet ons dit doen in vertroue en met die wete dat als reageer op God se Woord want als is gevorm deur God se Woord en word ook in standgehou deur God se Woord.
’n Verdere bevestiging van om te fokus op die lig is in Jakobus 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” Waar ons aangespoor word om ons gedagtes te onderwerp aan God en Sy Woord terwyl ons die vyand weerstaan, nie deur ‘’n geveg nie, maar deur te staan op die waarheid van God se Woord en die vyand sal vlug. Yeshua het dieselfde voorbeeld gestel toe Hy met die vyand gekonfronteer word terwyl Hy in die woestyn getoets was. Yeshua het net die waarheid van die Woord geproklameer en nie gerageer op die vyand nie, maar Homself aan die waarheid van die Woord onderwerp en die vyand het van Hom af weg gegaan.
In die begin het God gesê, laat dar Lig wees en God het gesien dat die Lig goed is en het skeiding gebring tussen die Lig en die duisternis. Lig sal altyd duisternis verdryf, dis ’n reël wat God ingestel het. Die Lig vrees nie die duisternis nie nie, maar die duisternis vrees die Lig, dis God se Woord soos geskryf is, Yeshua is die Lig van die wêreld en die Woord wat lewend geword het. Dis hoekom die vyand altyd ‘n leuen sal stuur want sodra hy die mens kan kry om te reageer op die leuen het hy ’n geleentheid om ongeloof in die krag van God se Woord te vestig.
In Efesiërs 6:17 skryf Paulus “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—“. Paulus vestig ons aandag daarop dat God se Woord in ons gedagtes moet lewe as ’n swaard om die vyand se leuens te vernietig soos ons die Woord proklameer.
Vir my is die Woord in Esegiël ’n uitstekende vorm van oorlogvoering, God het in hierdie situasie vir Esegiël gevra of die dooie bene kan leef, waarop hy nie sy opinie gegee het nie, maar slegs gesê het “HERE U weet”. Baie keer kom die vyand met ’n vraag soos met Eva, die vyand wag vir ons om ons opinie te gee sodat hy ons kan verlei om te twyfel. Esegiël het egter die antwoord gegee wat ons ook altyd moet gee, die Here weet en dan die antwoord te soek in Sy Woord nie die opinie van mense nie. Dink aan Esegiël 37:1-10 “Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit. Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ‘n geruis, en kyk—’n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been. Toe kyk ek en—daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ‘n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie. Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan—’n ontsaglike groot leër!”
Gebaseer op Esegiël 37, is die orde binne oorlogvoering eenvoudig, maar tog effektief:
- Eerstens, erken dat jy nie weet nie, maar dat God alles weet.
- Tweedens, luister en verkondig wat jy van God gehoor het soos vervat in Sy Woord of in Sy Woord bevestig is.
- Derdens, vertrou op die vervulling van die Woord wat jy van God ontvang het soos jy dit spreek in die outoriteit van Yeshua die Seun van God.
Die probleem is nie met die oorwinning wat God deur Sy enigste Seun Yeshua die Messias behaal het nie, die probleem is die onbetrokke gelowige, wat nie die oorwinning wil verkondig nie weens die opoffering en ongerief wat dit vereis. Gevolglik het die “kerk” sy krag verloor om aan te val, ons het soos Gideon geword voordat God hom geroep het, ons glo, maar ons is nie bereid om te gaan in die mag van wat ons glo en vertrou nie.
Oorweeg dit:
In ADAM se ongehoorsaamheid aan God het sy status as koninklikes oor God se skepping verlore gegaan en hy het ‘n slaaf geword op Satan se voorwaardes. Maar in ooreenstemming met God se verlossingsplan sou die saad van die vrou, wat God belowe het, die kop van die slang verbrysel. Yeshua was nie deur die saad van Adam beïnvloed nie, maar was van God as ‘n nuwe skepping wat onbesmet is deur die begeerte van die vlees sodat Hy kon vervul wat God in die tuin van Eden gespreek het, naamlik dat die Saad van die vrou die vyand se kop sal verbrysel. Die Seun van die mens, Yeshua, het gekom om in Homself een nuwe mens te skep wat die kop van die vyand sal verpletter. Yeshua het die oorwinning aan die kruis behaal, sodat ons as nuut geskape mens die goeie werk kan doen wat God van die begin af beplan het, om die kop van die vyand te verbrysel. Die implementering van hierdie oorwinning op aarde is nou in die hande van die “Kerk”. Die vyand rig sy aanval teen die Kerk om die volle effek van die voltooide werk van Yeshua te beroof deur die Goeie saad wat deur Yeshua gesaai is, te steel of te verderf.
Ons as gelowiges is nie meer vry om te leef asof daar geen oorlog is nie. Ons moet die teks van 2Ti 2:4 verstaan Geen soldaat raak verstrengel in burgerlike strewes nie, want sy doel is om die een wat hom ingeroep het, te behaag. As soldaat moet ons vir onsself die volgende vra :
1) Spreek ek die vyandskap uit wat God tussen die Lig en duisternis bewerk het toe Hy gesê het laat daar lig wees? Of soek ek vrede deur kompromie?
2) Is ek beskikbaar om as ‘n instrument die Woord as Lig van die wêreld te proklameer en gereed om die opposisie deur die Woord te verslaan.
3) Is ek bewus van wat die Skrif ons leer oor ons aandeel in hierdie geestelike konflik? Moenie dink dat wat gebeur het die 7 Oktober 2023 in Israel is gerig op Israel nie, dis gerig op ons wat die Woord erken as die Waarheid van God se Woord.
Die oorwinning van Golgota is op die gebedsvelde van Getsemane gewen. Yeshua het die stryd gewen met slegs die woorde wat Hy tot God gespreek het, “Nie my wil geskied nie, maar u wil geskied.” (Mat 26:42). Net so moet ons nie reageer op ons eie emosies nie, maar God se perfekte wil.
Jakobus 4:7 Onderwerp jou dus aan God. En neem standpunt in teen die Teenstander, en hy sal van jou af wegvlug.
Yeshua het gekom om die muur van vyandskap tussen Jood en heiden af te breek om ons as een nuwe mens in Homself te verenig. Ons moet krygers in die situasie wees, nie ons eie planne soek nie, maar soek wat God beplan het sodat die oorwinning aan die kruis eer aan God en Sy Seun Yeshua die Messias sal bring.
Efesiërs 2:11-16 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.
