Hemelvaart

Alhoewel  Hemelvaart nie meer as vakansiedag erken word nie, maak dit nie die dag minder belangrik nie. Ek is van mening dat die vyand hierdie geloofs-bevestigings dae uit die gedagtes van die mens wil verwyder uit vrees vir die waarheid van die Woord. Hy sal enige iets doen om die waarheid van die Woord te weerhou van mense

Hemelvaart is een van daardie dae wat ons geloof bou en ook ons opnuut fokus op die oorwinning wat Christus vir elkeen van ons behaal het. Ek wil julle herinner aan wat Jesus vir die dissipels gesê het in Johannes 16:4-10 “Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was. En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie? Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul. Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie”.

Hemelvaart as dag herinner ons elke jaar daaraan dat die bostaande Woorde van Jesus in vervulling gekom het en dat die opgestane Here Jesus opgevaar het en sit aan die regterhand van ons Hemelse Vader van waar Hy regeer.

Ons word ook herinner aan die opdrag wat Jesus gegee het met Sy Hemelvaart soos vervat is in LUKAS 24:46-49 AFR53 En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.

Hierdie bostaande opdrag is vir elkeen wat gehoor gee daaraan om te wag in vertroue vir die vervulling van die belofte van die krag van bo, om hul toe te rus om getuies te wees. Hierdie woord wag is nie passief nie, maar hoop met verwagting wat gegrond is in vertroue dat die belofte van Jesus in vervulling sal kom.

Jesus se Hemelvaart het Sy fisiese werk op aarde vervul met die verwagting dat soos die dissipels gaan wag en gevul word met die beloofde krag, hulle die werk sal voorsit om bekering en vergewing van sondes te verkondig. Hierdie opdrag bevestig net weereens hoe ons erfenis in Christus verweef is met die beloofde land Israel, dat verkondiging van bekering en vergifnis van sonde in Jesus se Naam (karakter en outoriteit) vanaf Jerusalem begin het.

Die woord wat gebruik word vir Jode wat terugkeer na Israel toe is “Aliyah” wat beteken om op te kom. Israel beteken ook hulle wat saam met God regeer, Israel het in 1948, soos deur die Woord van God geprofeteer in een dag weer ’n land geword.

Jesaja 66 vers 8 tot 10

Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ‘n land op een enkele dag gebore? Of word ‘n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar. Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die HERE. Of sou Ek wat laat baar, self toesluit? sê jou God. Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het! 

Aliyah is ’n voorlooper en aanduiding vir ons wat in Christus is, dat die tyd nader kom wanneer ons as kinders van ons Hemelse Vader met Jesus in die wolke opgeneem sal word om saam met Hom te regeer, soos geskrywe in 2 Timotheus 2:11-12 Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer.

Daarom is dit belangrik om te besef dat die Hemelvaart van Jesus net soos Sy kruisiging en Sy opstanding vir ons as voorloper dien. Ons ou lewe moet sterf saam met Christus, sodat ons saam met Hom kan opstaan in DIE NUWE LEWE om saam met Hom opgeneem te word in die Hemel en saam met Hom te regeer.